Matriek en toelating tot Universiteit
INLEIDING
Matriek is die term wat algemeen gebruik word om die kwalifikasie aan te dui wat uitgereik word as ’n leerling sy skoolopleiding voltooi het. ’n Matriek word dikwels vereis om ’n werk te kry of om toegang tot verdere opleiding te kry, veral ’n matriek met universiteit vrystelling.
In die verlede was die matriek onder die beheer van die universiteitshoofde en die doel van matriek was om ’n standaard te voor te skryf op grond waarvan iemand tot universiteit toegelaat kan word. Met die aanvaarding van ’n nuwe grondwet in 1994, is die beheer van matriek aan die minister van onderwys oorgedra. Die minister van onderwys het egter matriek verander sodat nie slegs die standaard voorgeskryf word nie, maar ook die inhoud. Op hierdie wyse word matriek ’n middel gemaak waarmee die politieke ideologie van die staat aan die leerders oorgedra word. As gevolg hiervan is daar toenemend 'n vraag vir alternatiewe wyses waarop 'n matriek verwerf kan word.
In hierdie bedeling is daar in hoofsaak twee maniere waarop ’n matriek verwerf kan word:
- Deur ’n akademiese matriek te verwerf (NSS, Internasionale matriek)
- Deur beroepsgerigte kursusse te doen wat ekwivalent aan matriek is
Daar is beperkte moontlikhede om nog die "ou matriek" te doen, en in die toekoms word daar beplan om 'n matriek vir volwassenes in te voer.
AKADEMIESE MATRIEK
Die mees algemene akademiese matriek in Suid-Afrika is die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) of graad 12 en die internasionale matriek.
Verwerwing van die NSS
Die wyse waarop die finale punt vir die NSS saamgestel word, is soos volg:
- Die finale punt vir die NSS bestaan uit twee komponente. Die eerste komponent tel 25%, en is die finale punte van die interne assessering vir graad 12. Die tweede komponent tel 75% en is die punt in die NSS eksamen verwerf is.
- Die finale punt vir die Lewensoriëntering leerarea word gebaseer op die finale punte van die interne assessering. Hierdie interne assessering moet ekstern gemodereer word deur die Departement van Onderwys, die eksamenraad en Umalusi.
- In graad 12 moet alle interne assessering ekstern gemodereer word deur die Departement van Onderwys, die eksamenraad en Umalusi.
- Leerders wat wil inskryf vir die NSS moet aan die volgende vereistes voldoen:
- Die leerder moet geregistreer wees by ’n publieke of private skool wat die NSS kursus aanbied; en
- Die leerder moet voldoen aan al die vereistes van die interne assessering; en
- Die leerder moet voldoen aan al die slaagvereistes van graad 10 en graad 11.
- Registrasie vir die NSS is voor of op 15 Maart van die jaar waarop die NSS geskryf word.
As ’n tussentydse reëling kan deeltydse studente inskryf vir die NSS indien hulle geregistreer is by ’n kurrikulum verskaffer wat ingeteken is by een van die eksamenrade. ’n Lys van kurrikulum verskaffers wat ingeteken is word verskaf in die volgende afdeling.
Ook hier moet daar voldoen word aan die vereiste dat voldoen moet word aan die slaagvereistes van Graad 10 en 11. Dit kan gedoen word om in te skryf by so ’n kurrikulum verskaffer vanaf Graad 10. Alternatiewelik kan daar in gesprek getree word met die eksamenrade en daar kan met hulle onderhandel word oor wat die eksamenraad as voldoende bewys sal beskou dat ’n leerder aan die slaagvereistes van graad 10 en 11 voldoen. As ouers genoegsame bewyse kan verskaf, kan die leerder ingeskryf word vir die NSS.
Verwerwing van 'n internasionale matriek
Cambridge
Die internasionale matriek wat die meeste gebruik word is die Cambridge matriek. In Suid-Afrika kan leerlinge twee kursusse doen naamlik IGCSE (International General Certificate of Education) en AS Levels. Die IGCSE is naastenby ekwivalent aan 'n Suid-Afrikaanse graad 10 en 11 terwyl die AS Level naastenby ekwivalent is aan die Suid-Afrikaanse graad 12.
IGCSE neem ongeveer 2 jaar om te voltooi vir studente tussen die ouderdom van 14 - 16 jaar, en die leerling moet 7 vakke doen. Hierna volg die AS Levels wat ongeveer 2 jaar neem om te voltooi deur leerlinge van 16 - 19 jaar. Die leerling moet 5 vakke neem op hierdie vlak.
Daar is verskeie kurrikulum verskaffers wat leerlinge voorberei vir die Cambridge eksamen.
GED
Die GED (General Education Development) toets word in die VSA gebruik vir die verlening van toegang tot Amerikaanse colleges. Dit bestaan uit 'n groep van toetse oor vyf areas. Die GED toetse is redelik maklik en kan voltooi word in vyf tot ses weke. (met vyf ure studie per dag vir die gemiddelde leerling)
Die GED toetse kan afgele word in Prometric toets sentrums in Suid-Afrika. Toetse kan oor die internet bespreek word deur die Prometric webwerf. Leerlinge kan voorberei vir die toetse deur in te skryf by GED Academy, 'n aanlyn skool wat studente help voorberei vir die GED toetse. Hulle kontak besonderhede in Suid-Afrika is : 55 Empire Road, Parktown (Centre nr. 8201). Tel: 011-7130653. Epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Om voor te berei kan studente aanlyn aansluit by die GED Academy deur middel van aanlyn proses (insluitend 24/7 tutors). GED Academy se aanlyn program is eenvoudig. Die stelsel monitor jou vordering en stel jou om vas te stel wanneer jy gereed is vir die eksamen. Studente kan teen hulle eie tempo voorberei. Die webwerf vir hierdie diens is : http://www.passged.com
SAT
Die SAT (Skolastiese Aanleg Toets) is 'n gestandariseerde toets wat in die VSA gebruik word om toelating te verleen tot colleges in die VSA. Die SAT toets verskaf nie aan die leerling 'n sertifikaat nie, maar word in sommige gevalle benodig om matriekvrystelling te kry. Daar is twee soorte SAT toetse. SAT1 toets vermoens soos Engelse lees, begrip, taal en skryf, wiskunde (behalwe trigonometrie) en kritiese denke. SAT2 is toetse oor spesifieke onderwerpe soos fisika, biologie, Spaans, ens.
Die SAT eksamens word geadministreer deur die College Board in die VSA. Hierdie eksamens word aangebied in toets sentrums in 175 verskillende lande, insluitende Suid-Afrika. Studente kan registreer deur die webwerf van die College Board. Hierdie webwerf bevat ook inligting oor hoe om voor te berei vir die SAT toetse.
Kurrikulum verskaffers wat matriek aanbied
Onderstaande tabel gee die besonderhede van kurrikulum verskaffers wat ’n matriek aanbied.
| Naam | Kontak | Tipe |
Beskrywing |
| Nukleus Onderwys |
Web: www.nukleus.co.za Epos : This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it Tel : (044) 873 0346 |
NSS |
ERCO eksamenraad |
|
Love2Learn |
Web: www.love2learn.co.za Epos : This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it Tel : (011) 465 6049 |
Cambridge | CIE |
|
Afstandsleer Plus |
Web: www.afstandsleer.co.za Epos : This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it Tel : (083) 959 9934 |
NSS | Noord Kaap |
Ouers moet in ag neem dat leerders wat ingeskryf is by ’n kurrikulum verskaffer wat geregistreer is by ERCO of CIE, hulle eksamens kan aflê in eksamensentrums oor die hele land. Indien die kurrikulum verskaffer egter geregistreer is by ’n provinsiale eksamenraad, dan kan die eksamen slegs afgelê word in daardie provinsie.
Verder moet ouers in ag neem dat die Cambridge eksamen slegs in Engels afgelê kan word, terwyl die NSS in Engels of Afrikaans afgelê kan word.
SAQA BEROEPSGERIGTE KURSUSSE
Beroepsgerigte kursusse kan gedoen by ’n kurrikulum verskaffer of tegniese kolleges. Die kursusse wat deur hierdie instellings aangebied word moet wees geregistreer by ’n SETA (Skills Education Training Authority) en by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie Outoriteit (SAQA).
Nadat leerlinge ’n Graad 9 vlak bereik het, kan hulle beroepsgerigte kursusse begin volg. ’n Kursus bestaan gemiddeld uit 14 vakke per jaar. Die kursusse bestaan uit fundamentele, keuse of kern vakke. Fundamentele vakke is algemeen vormende vakke soos wiskunde en tale, terwyl keuse of kern vakke gekoppel is aan die beroepsgerigte kwalifikasie.
Die leerling doen hierdie kursusse terwyl hy of sy werk in die rigting waarin die kursusse gedoen word. Die werkgewer moet tyd aan die leerling gee om die kursus en die assessering te doen. Daar word aanbeveel dat leerders in die eerste jaar sonder vergoeding werk (maar daarna as die werkgewer dit goed vind vir minimum vergoeding per uur).
Aan die einde van elke jaar doen die leerling praktiese eksamen by ’n assessering sentrum. Wanneer die praktiese eksamen suksesvol afgelê is en bewys van praktiese ervaring verskaf is, kry die leerling ’n Vlak 2,3 of 5 Nasionale Sertifikaat van die relevante SETA (Skills Education Training Authority). So ’n sertifikaat is ekwivalent aan Graad 10, 11 of 12 van die NSS. Indien die sertifikaat ingehandig word by Umalusi, kan Umalusi ’n ekwivalente sertifikaat as die NSS uitreik.
Die tabel hier onder verskaf die besonderhede van kurrikulum verskaffers of tegniese kolleges wat beroepsgerigte kursusse aanbied. Ouers moet in ag neem dat hulle jaarliks die assessering sentrum sal moet besoek. Om die rede word die plek van die assessering sentrum gegee.
| Naam | Kontak | SETA |
Assessering Sentrum |
| - | - |
- |
- |
| - |
- |
- |
- |
Vir meer inligting oor die verskillende SETAs wat bestaan, besoek die webwerf www.vocational.co.za
Oorwegend is die beroepsgerigte kursusse in Engels, maar daar is verskaffers wat besig is om kursusse in Afrikaans te vertaal.
Nie-SAQA BEROEPSGERIGTE KURSUSSE
Daar is ’n verskeidenheid beroepsgerigte kursusse wat nie by SAQA geregistreer is nie. Hierdie kursusse word nie deur SAQA erken nie en kan ook nie gebruik word om uiteindelik ’n matriek te verwerf nie. Hierdie kursusse word egter wel deur die industrie erken en kan gebruik word om ’n werk te kry of om self ’n besigheid te begin. Vir hierdie kursusse is daar oorwegend nie toelatingsvereistes nie. Enigiemand wat kan betaal vir die kursus, rekenaar geletterd is en bereid is om hard te werk kan inskryf vir so ’n kursus.
DIE "OU" MATRIEK
Met in invoering van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) is die vorige Senior Sertifikaat uitgefaseer. Aangesien die NSS nie geskik is vir afstandsonderwys nie (aangesien dit vereis dat leerders in 'n geregistreerde skool moet wees in Gr. 10 - 12), het die Departement vir Basiese Onderwys die afsnydatum dat leerders die pre-2008 Senior Sertifikaat eksamen kan skryf uitgestel tot 2014. Die geleentheid om te registreer vir die Senior Sertifikaat is ook uitgebrei sodat meer leerders kan registreer vir hierdie eksamen. Tans is hierdie geleentheid egter slegs beskikbaar vir leerders wat 21 jaar en ouer is.
VOLWASSE MATRIEK
In Maart 2011 het Umalusi, die agentskap verantwoordelik vir kwaliteit van matriek in Suid-Afrika, die Nasionale Senior Sertifikaat vir Volwassenes (NSSV) kwalifikasie voorgelê aan die minister van hoër onderwys. Dit is een stap in ’n lang moeisame pad wat nog gestap moet word.
Die ontwikkeling van hierdie kwalifikasie is in 2008 begin deur ’n vorige minister van onderwys, Naledi Pandor, om die miljoene jongmense wat nie meer in die skool is nie, ’n geleentheid te gee om ’n matriek te verwerf.
Die invoering van die NSSV sal dit heelwat makliker maak vir jongmense buite skole om ’n matriek te verwerf. Om hierdie kwalifikasie te verwerf kan enigiemand ouer as 18 jaar eenvoudig eksamens gaan skryf oor vier vakke en ’n punt van meer as 45% behaal in al die vakke. Daar is geen toelatings vereistes nie. Twee van die vakke is verpligtend (Taal en Wiskunde) en twee is keuse vakke (Menslike en sosiale studies, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en bestuurswetenskappe of ’n addisionele taal). Kandidate kan al die vakke in een eksamen sitting of in verskillende sittings gaan skryf. Kandidate kan vakke weer skryf om ’n beter punt te verwerf. Die kwalifikasie moet binne 6 jaar verwerf word vanaf die datum van inskrywing.
Umalusi is nou klaar met sy deel van die NSSV, maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word deur die departement van hoër onderwys. In April 2012 het die Departement van Hoër Onderwys konsepregulasies gepubliseer vir die administrasie van die NSSV vir publieke kommentaar. Daar word tans beplan om die NSSV in 2014 in te voer.
Die NSSV kan tuisleerders bevry van die vereiste om Gr. 10, 11 en 12 by ’n kurrikulum verskaffer doen wat sy leerders inskryf by ’n eksamenraad. Tuisleerders kan eenvoudig dit doen waarin hulle belangstel en op die ouderdom van 18 die NSSV verwerf.
TOELATING TOT UNIVERSITEIT
Om tot ’n universiteit toegelaat te word, moet aan die volgende vereistes voldoen word:
- Daar moet voldoen word aan die algemene vereistes wat deur die Komitee van Universiteitshoofde vasgestel is; en
- Die toegangstoetse van die universiteit moet geslaag word (vir die kursusse MBChB, B in Arbeidsterapie, BSc in Fisioterapie en BSc in Dieetkunde moet Nasionale Gesondheidswetenskappe - plasingstoetse geskryf word) ; en
- Deur aan die vereistes van die spesifieke fakulteit te voldoen.
- Sommige universiteite het ’n beperking in die hoeveelheid studente wat toegelaat word om ’n program te volg. Voorbeelde hiervan is Mediese kursusse en regte. In sulke gevalle word nog addisionele keuring gedoen.
Die algemene vereistes van die Komitee van Universiteitshoofde
’n Tuisleerder kan op verskeie maniere aan die algemene vereistes voldoen:
- Deur ’n NSS te verwerf wat deur Umalusi onderskryf word. Op sy beurt kan dit gedoen word deur te registreer by ’n kurrikulum verskaffer wat ingeteken is by ’n eksamenraad;
- Vir toelating tot ’n hoër sertifikaat studie word slegs ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word vereis.
- Vir toelating tot ’n diploma studie word ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word vereis, asook 40 – 49% in vier ander NSS vakke.
- Vir toelating tot ’n universiteit word ’n persentasie van 30% in die taal waarin onderrig op die instansie gegee word vereis, asook 50 – 59% in vier NSS vakke van ’n voorgeskrewe lys van vakke.
OF;
- Deur ’n internationale matriek te verwerf wat deur die Matrikulasieraad erken word (bv. Cambridge, GED). Die volgende alternatiewe is beskikbaar:
- Cambridge : Kliek hier vir 'n dokument wat die vakkeuses en minimum punte wat nodig is vir toelating tot universiteit vir Cambridge kanidate.
- GED plus 'n toelatingsbrief van 'n ge-akkrediteerde universiteit in die VSA. Wanneer 'n student 'n GED verwerf het, kan hy toelating vra tot 'n universiteit, en 'n toelatingsbrief ontvang van so 'n universiteit. Een so 'n universiteit waar dit redelik maklik is om so 'n toelatingsbrief te verkry is die Empire State College in New York. Dit keen enkele minute teen 'n koste van +$50. Registrasie kan gedoen word in twee weke..
- GED plus sekere minimum SAT punte. Hierdie minimum punt is 'n SAT1 punt van 1600 met 'n sub minimum van 550 vir kritiese lees en 500 vir wiskunde. Verder 'n SAT2 punt van 1050 vir Engels en Chemie/Fisika en 'n subminimum van 500 vir Engels en een van die volgende : Fisika, chemie, biologie en wereld geskiedenis.
OF;
- Deur toelating te kry deur ’n graad te verwerf by ’n buitelandse universiteit wat deur die Matrikulasieraad erken word; OF
- Deur ’n diploma te verwerf by ’n kollege of ’n technikon; of universiteit; OF
- Deur 23 jaar of ouer te wees en 40% te kry vir ’n kombinasie van vakke en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi; OF
- Deur 45 jaar en ouer te wees en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi; OF
- Deur jonger as 23 jaar te wees en ’n verklaring van die senaat van ’n universiteit te verkry waarin verklaar word dat die student ’n redelike kans het om die kursus te voltooi. Die opsie kan slegs oorweeg word vir besonders begaafde studente.
Die proses om matriekvrystelling te verkry by die matrikulasieraad is soos volg:
- Faks 'n kopie van die Cambridge/GED/SATS dokumentasie en 'n kopie van die ID na 0866 7777 44 (sluit kontak besonderhede in).
- Dit neem ongeveer om die aansoek te verwerf.
- Kontak persone is : Themba of Radley by 012 481-2915/2910 or epos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it / This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it








