Kerke is bekommerd oor die tendens dat jongmense die kerk verlaat. Daar word gesê dat hulle “graduate out of church”. ’n Verskeidenheid redes word hiervoor aangevoer, maar selde word die invloed van die staatsgodsdiens wat deur publieke skole oorgedra word raakgesien. Kerke wat jongmense wil behou moet daarom kennisneem onderwysmoontlikehede buite die publieke skole.

Met die invoering van die Nasionale Kurrikulum in 2002 was een van die grootste besware daarteen die bevordering van die Intergeloofgodsdiens, veral in die leerarea van “Lewensorientering”. Volgens die Intergeloofgodsdiens is alle godsdienste in die wêreld menslike versinsels en is daar nie ’n ding soos ’n ware godsdiens en ’n valse godsdiens nie. Alle godsdienste is gelyk. Sarel van der Merwe het ’n video hieroor gemaak met die titel : “Intergeloof in die Onderwys”. Kliek hier om ’n uittreksel uit hierdie video op Youtube te sien.

In die begrotingsrede van 2011 het die minister die band bevestig tussen die Departement van Basiese Onderwys en die Intergeloof beweging toe sy gesê het : “It is behind this background that we launched the Bill of Responsibilities in partnership with Lead South Africa and the South African Inter-Faith Council.” Ook in die 2012 begrotingstoespraak het die minister van Basiese onderwys haar verbintenis tot die Intergeloof godsdiens bevestig toe sy sê : “A vital component of our strategy is working with partners in the private sector, higher education, NGOs, traditional leadership, interfaith organizations and broader society.” Op 30 Oktober 2012 was pres. Zuma ’n hoofspreker by die 4de Intergeloof konferensie vir Vrede in Afrika in Kaapstad. Hierdie konferensie het borggeld van die parlement ontvang ter waarde van R2.1 miljoen.

Gegee dat publieke skole die Intergeloof godsdiens bevorder en die oorgrote meerderheid jongmense hulle onderwys daar ontvang, is dit nie verbasend dat hulle die kerk verlaat nie. Hierdie jongmense het vir 12 jaar lank, 30 – 40 uur per week, onderwys ontvang volgens ’n kurrikulum wat die Intergeloof godsdiens bevorder, onder die bestuur van ’n minister wat verbind is tot die intergeloof. Hierteen is ’n erediens van minder as ’n uur en 30 min se kategese per week in die Christelike godsdiens nie opgewasse nie.

Verder word daar dikwels na die tradisionele gesin verwys as die boustene van die kerk. As die gesin dus verbrokkel, dan verbrokkel die kerk. ’n Onlangse boek met die titel “How the West Really Lost God” beskryf hierdie nou band tussen kerk en gesin. In die kurrikulum van publieke skole word die tradisionele gesin word egter verdag gemaak en alternatiewe samelewingsverbande as normaal voorgestel. Deur die verdagmaking van die tradisionele gesin dra publieke skole nog verder by tot die verval van die kerk.

Kerke wat wil groei moet daarom ’n onderwysmodel voorstaan waarin lidmate hulle eie godsdienstige oortuigings kan oordra aan die volgende geslag, asook ’n onderwysmodel wat die boustene van die kerk versterk. Tuisonderwys is ‘n onderwysmodel wat aan beide van hierdie vereistes voldoen.

In 2011 verklaar Regter Cynthia Pretorius in die Pretoriase Hooggeregshof dat die nasionale kurrikulum nie bindend is op ouers wat tuisonderwys gee nie. In tuisonderwys kan ouers dus hulle  eie godsdienstige oortuigings aan hulle kinders oordra, en kinders hoef nie beïnvloed te word deur die staatsgodsdiens nie. Tuisonderwys voldoen ook aan die tweede vereiste aangesien navorsing toon dat tuisonderwys juis ’n onderwysmodel is wat bydra tot die versterking van die gesin.

Baie kerke verstaan dit en begin tuisonderwys bevorder. In 2004 het die sinode van die Southern Baptists Church in die VSA besluit om ouers op te roep om hulle kinders te onttrek uit publieke skole en te kies vir Christelike privaatskole of tuisonderwys. In 2011 word ’n film vrygestel met die titel “Indoctrination: Public Schools and the Decline of Christianity in America.” waarin die invloed van publieke skole op die Christelike godsdiens uitgebeeld word. Baie kerke hou publieke vertonings van hierdie films. In Mei 2012 het die verteenvoordiger van die Vatikaan in die Verenigde Nasie ’n verklaring uitgereik waarvolgens die staat die regte van ouers behoort te erken om die tipe onderwys vir hulle kinders te kies en om hulle te beskerm teen ideologiese indoktrinasie deur die staat.

In Suid-Afrika is baie kerklidmate egter nog van mening dat Christene hulle kinders juis na publieke skole behoort te stuur om daar te “getuig”. Ds. Slabbert le Cornu, gereformeerde predikant, antwoord hierdie argument egter soos volg : “Kom ons let op Matt 10: 16,17 : ‘Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal soos skape wees wat tussen gevaarlike wolwe is. Daarom moet julle versigtig wees soos die slange, en soos duiwe moet julle niks verkeerd doen nie.’ As ons hierdie vers van toepassing wil maak vir hierdie onderwerp, is dit belangrik om te kyk vir ‘wie’ Jesus hierdie woorde gesê het. Die antwoord vind ons in Matt.10:1,2 en 10:5: Matt.10:1-2 : ‘En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.  ... Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê ...’ en dan volg as een van die opdragte v.16,17 wat hierbo vermeld word. Jesus stuur volwasse geharde toegeruste gelowige mans uit vir die belangrike roeping en taak wat hul moes uitvoer, wetende die vervolging wat op hul wag, dat hul die taak met wysheid moet aanpak. Die verse kan nie gebruik word as begronding waarom ons ons kinders na Molog staatskole stuur nie (ek gee wel toe dat dit in sekere staatskole  beter gaan as in ander, en dat daar nog hoofde en personeel is wat ‘n Christelike etos wil handhaaf, maar oor die algemeen en wat die toekoms betref is die staatskole al minder Christelik en nie ‘n goeie keuse om ons kinders waarlik gereformeerd op te voed nie), of van kinders verwag om ‘flou liggies’ daar te laat skyn nie.

Kerke wat jongmense wil opbou om in die toekoms die samelewing te beïnvloed behoort dus kennis te neem van tuisonderwys, aangesien dit die kinders beskerm teen Intergeloof godsdiens wat deur publieke skole oorgedra word en bydra tot die versterking van die boustene van die kerk, naamlik die gesin.

b2ap3_thumbnail_intergeloof.jpg